Gert-Johan Coetzee is ‘n klere-ontwerper met ‘n gewete. Laasjaar het hy sy kreatiwiteit ingespan om borskankerbewustheid te bevorder en vanjaar rig hy homself op die MIV/Vigs-kwessie deur ‘n innoverende gebruik van patrone in sy ontwerpe. Dié versameling word Woensdagaand by die Crowne Plaza Rosebank bekendgestel as deel van SA Fashion Week.
"Ons is so gewoond daaraan om die rooi strikkie op als te sien dat ons verby die boodskap wat dit dra, kyk. Daarom wil ek met my Winter/Herfs-versamling die fokus terugskuif MIV toe sodat ons met nuwe oë daarna kyk. ‘n Hernude bewusmaking van die kwessie is nodig vir ons om die samelewing te verander en die infeksiekoers af te bring," sê Gert-Johan.
Dié boodskap word weerspieël in die abstrak patrone wat Gert-Johan in dié reeks gebruik het. Dis geïnspireer deur ‘n mikroskopiese kykie na die MIV-virus waar dit soos ‘n "polka-dot" monster" lyk, sê Gert-Johan.
Die diamantpatroon kom ook in dié ontwerpe voor – dit simboliseer wapenrusting en beskerming teen MIV.
Die versameling het ook ‘n retro-gevoel met vroulike lang rompe en kleding wat verstel kan word om geskik te wees vir enige weer – soos warm, sonnige dae wat vinnig verander in koue aande. Die versameling se kleurskema is wat Gert-Johan "Under the African sky" noem – skakerings van blou en oranje, groen (soos die veld), bruin (aarde) en metaal (minerale).